Saterdagoggend, 07:36 en ek sit die ovaalvormige swart pot in die sonnetjie by my studeerkamer se glasdeur neer om te rys!  Ja nee, hierdie boertjie het nie ‘n lui haar op sy kop nie en sy hande staan vir niks verkeerd nie.  Al is daar mense in die land wat die brood van my tafel af (of uit my mond uit?) wil neem.  En dan is ‘n mens nog partykeer verplig om hulle agterna te praat ook – hoe sê hulle? – wiens brood men eet, diens woord men spreekt.

Oor ‘n driewartier of so sal ek die brood in die oond hê, ons sal dit nou maar nie ‘n broodjie in die oond noem nie.

So het ‘n paar weke gelede se broodjie gelyk.  So half tien se kant sal ons hom uithaal en eet met botter wat insmelt, amper sal ons ons brood aan albei kante gebotter hê! En lekker appelkooskonfyt.  Man!  Maar na so twee dik snye kan ek nie meer nie – as die muis dik is, is die meel bitter!

Ek het gisteraand vir die lede wat gaan help op hierdie blog, ‘n e-pos gestuur en sal binnekort die span hier aankondig.  Of miskien kan hulle sommer hulleself hier aankondig, met ‘n prentjie en ‘n staaltjie of enigiets! Ek hoop die blog sal vir ons net ‘n vreugde wees, nie ‘n meulsteen om die nek nie!

Groete,

Chris