Voor ons wegspring sal ons moet besluit wat ons nou eintlik alles hier wil plaas, wat beskou ons as ‘n spreekwoord en wat nie?  Om dit te probeer beantwoord, het ek ‘n bietjie in my ou HAT (1991) gaan kyk:

spreekwoord. Kort kernagtige gesegde, gewoonlik welbekend en oud, waarin ‘n algemene waarheid of wyse les  uitgedruk is: “Die môrestond het goud in die mond”, is ‘n spreekwoord

gesegde 1. Spreekwoordelike uitdrukking; spreekwoord, segswyse, spreek: In daardie streek hoor ‘n mens eienaardige gesegdes, 2. Die gedeelte van ‘n sin wat uitdruk wat daar van die onderwerp gesê word…

segswyse Vaste, dikwels gebruikte uitdrukking; geykte uitdrukking.

Ek het ook kers opgesteek by Wikipedia in Nederlands oor spreekwoord en die ander twee. Dit verskil bietjie van bg. in die HAT, maar is dit tog eens oor die waarheid of les wat die spreekwoord bevat.  My gevoel is dat ons nie pedanties moet wees nie, veral dink ek dat dit tog bv. ongewone gesegdes is wat ons wil bewaar.

Dan kan daar nog ander vrae wees wat ons moet beantwoord, soos bv. wil ons dinge met ‘n “ouderdomsbeperking” hier plaas?

‘n Paar gewilliges het hulleself aangemeld.  Ek wil nog bietjie wag en kyk of daar nie nog iemand wil aansluit nie, maar die span sal binnekort bekend gemaak word.  Intussen sal enige opinies oor bostaande waardeer word.