Ja, hier het seker al menige moë soeker aangekom en gesê, “Nie weer nie!”

Probeer gerus Idiome op die webwerf  And I “Quote”.

Advertisements

Saterdagoggend, 07:36 en ek sit die ovaalvormige swart pot in die sonnetjie by my studeerkamer se glasdeur neer om te rys!  Ja nee, hierdie boertjie het nie ‘n lui haar op sy kop nie en sy hande staan vir niks verkeerd nie.  Al is daar mense in die land wat die brood van my tafel af (of uit my mond uit?) wil neem.  En dan is ‘n mens nog partykeer verplig om hulle agterna te praat ook – hoe sê hulle? – wiens brood men eet, diens woord men spreekt.

Oor ‘n driewartier of so sal ek die brood in die oond hê, ons sal dit nou maar nie ‘n broodjie in die oond noem nie.

So het ‘n paar weke gelede se broodjie gelyk.  So half tien se kant sal ons hom uithaal en eet met botter wat insmelt, amper sal ons ons brood aan albei kante gebotter hê! En lekker appelkooskonfyt.  Man!  Maar na so twee dik snye kan ek nie meer nie – as die muis dik is, is die meel bitter!

Ek het gisteraand vir die lede wat gaan help op hierdie blog, ‘n e-pos gestuur en sal binnekort die span hier aankondig.  Of miskien kan hulle sommer hulleself hier aankondig, met ‘n prentjie en ‘n staaltjie of enigiets! Ek hoop die blog sal vir ons net ‘n vreugde wees, nie ‘n meulsteen om die nek nie!

Groete,

Chris

Voor ons wegspring sal ons moet besluit wat ons nou eintlik alles hier wil plaas, wat beskou ons as ‘n spreekwoord en wat nie?  Om dit te probeer beantwoord, het ek ‘n bietjie in my ou HAT (1991) gaan kyk:

spreekwoord. Kort kernagtige gesegde, gewoonlik welbekend en oud, waarin ‘n algemene waarheid of wyse les  uitgedruk is: “Die môrestond het goud in die mond”, is ‘n spreekwoord

gesegde 1. Spreekwoordelike uitdrukking; spreekwoord, segswyse, spreek: In daardie streek hoor ‘n mens eienaardige gesegdes, 2. Die gedeelte van ‘n sin wat uitdruk wat daar van die onderwerp gesê word…

segswyse Vaste, dikwels gebruikte uitdrukking; geykte uitdrukking.

Ek het ook kers opgesteek by Wikipedia in Nederlands oor spreekwoord en die ander twee. Dit verskil bietjie van bg. in die HAT, maar is dit tog eens oor die waarheid of les wat die spreekwoord bevat.  My gevoel is dat ons nie pedanties moet wees nie, veral dink ek dat dit tog bv. ongewone gesegdes is wat ons wil bewaar.

Dan kan daar nog ander vrae wees wat ons moet beantwoord, soos bv. wil ons dinge met ‘n “ouderdomsbeperking” hier plaas?

‘n Paar gewilliges het hulleself aangemeld.  Ek wil nog bietjie wag en kyk of daar nie nog iemand wil aansluit nie, maar die span sal binnekort bekend gemaak word.  Intussen sal enige opinies oor bostaande waardeer word.

Ek het amper 11 maande gelede ‘n inskrywing gemaak oor die boek, SPREEKWOORDE, en waar hulle vandaan kom. Nou kom ek agter dat heelwat mense deur soekenjins by my blog uitkom as hulle inligting soek oor spreekwoorde. Dit blyk daar is nie inligting op die internet nie, en die inskrywing help ook nie eintlik nie.

Ek wonder of dit sal werk vir ‘n klompie mense om saam te werk om ‘n goeie klompie spreekwoorde op die internet beskikbaar te stel. Die idee is nie om met die boek te kompeteer nie, maar ek hou tog van die konsep dat as iemand inligting soek op die internet, daar darem iewers iets moet wees. Ek vermoed maar net dit is dalk skoolkinders wat so soek.

As daar ander WordPress gebruikers is wat wil saamwerk, laat weet my asseblief deur hier kommentaar te lewer. My idee is om 26 inskrywings te skep, een vir elke letter van die alfabet. Spreekwoorde word dan daarin ingedeel volgens die sleutelwoord, bv. “Van die os op die jas” kan onder Os by O of onder Jas by J verskyn. Bydraers sal natuurlik self in hul eie woorde die betekenis van die spreekwoord moet beskryf, ons mag nie in daardie boek gaan kyk nie. Ons kan dit moontlik so opstel dat almal enige inskrywing kan verander, of ons moet van die begin af die alfabet verdeel sodat elke bydraer sy letter-inskrywings skep en kan verander.

Enigiemand anders kan natuurlik ook ‘n bydrae lewer deur dit as kommentaar te los.

Hoe lyk dit?